Gelukwense aan
Annie Landman



Liefste Ouma
Wat 'n wonderlike voorreg het ons vandag om deel te hê aan Ouma se 100 ste verjaarsdag. Ons prys en dank die Here daarvoor dat Ouma so lank vir ons gespaar is. Nie net vir onsself nie maar ook om die werk van die Here hier op aarde te doen.

Baie geluk met Ouma se verjaarsdag en met hierdie mylpaal wat bereik is.

As ek my oë toemaak en 'n bietjie terugdink, so 35 jaar terug, kan ek Ouma daar tussen die rose sien staan by die huis in Olifansfontein. Wat 'n voorreg het ons nie gahad om Ouma so naby die laerskool te hê nie. Hoeveel keer het ons nie gou weggeglip pouses en na skool om vinnig by Ouma 'n draai te maak en iets lekkers te kry om te eet nie? Die ou huis in Olifantsfontein bring so baie goeie herinneringe terug.

Wat 'n Ouma het ons nie. Wat 'n wonderlike voorreg om so 'n Godvresende mens te ken. Waar gaan ons as mense 'n beter voorbeeld kry as ons Ouma in hierdie tyd en dag waarin ons leef. Nooit het ek 'n lelike woord oor haar lippe gehoor of dat sy iets slegs gesê het van iemand nie. Ek is so trots op my Ouma en kan net strewe om ook so naby aan die Here te kan leef.

Ouma het vir my die Bybel gegee wat Oom Willie en Tant Rachie vir Oupa gegee het op sy 75ste verjaarsdag. Nog die ou vertaling. Ek lees gereeld elke aand uit die Bybel. Ouma het die Bybel op 24 September 1986 vir my gegee en voorin die versie geskryf: Hooglied 8:7: "Groot waters kan die liefde nie uitblus nie, en riviere dit nie oorstroom nie". So groot is Ouma se liefde ook vir God en vir ons.

Iets wat baie vir ons beteken is dat Ouma agter ons gestaan het toe ons moes besluit om Amerika toe te kom. Wat 'n besluit om te neem maar Ouma het agter ons gestaan en geweet dit is wat die Here wou hê. Hoe kan ons dan daarteen skop as die Here ons waarheen ookal lei?

Ons wens ons was ook hier om ook in persoon deel te hê aan die feesvieringe van vandag en Ouma 'n drukkie en soentjie te kan gee. Julle wat so bevoorreg is om hier te wees vandag, moet dit maar namens ons doen. Hier is darem 'n paar soentjies. XXXXXXXXXXXXXXXXXXXX.

Om af te sluit die volgende gedeelte uit Kolossense 1:9-14:

  1. Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig,
  2. sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,
  3. en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap,
  4. en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig -
  5. Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,
  6. in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.

Al ons liefde vanaf 'n vêr San Francisco
Cornelius, Iona en Jan-Hendrik Engelbrecht
16 Oktober 2004

Na volgende gelukwense